EllisrasEllisras WatertoringEllisras Bakkery  
deur Thomas Coetzee  
 
 
 
Afrikaanse Kiwi publiseer lag-met-'n-traan boek

Brokkies - Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland Logo

Uit Brokkies - 31 Julie 2008

Hy het deur die jare heelwat gediggies op aanvraag vir troues, geboortes, verjaarsdae en ander geleenthede geskryf, maar sy eerste boek, ‘Grootwordjare’, is eers nou die dag in Suid-Afrika gepubliseer terwyl hy in Nieu-Seeland woon.

Thomas Coetzee se boek is in Junie deur Publiself Uitgewers in Pretoria uitgegee. Heelwat eksemplare is reeds in Suid-Afrika verkoop en nou maak Thomas die boek ook in Nieu-Seeland vir Afrikaanse Kiwi’s beskikbaar.

“Ek is dankbaar dat ek uiteindelik tot die stap oorgegaan het, my 63 lewensjare ten spyt,” sê Thomas, wat in 2001 saam met sy gesin in Nieu-Seeland aangekom het.

“Omdat ek graag aktief besig wou bly, het ek die boek oor my grootwordjare geskryf. Dit gaan oor die vroeë jare van die Noord Transvaalse Bosveld en die interessante karakters wat destyds in die omgewing gewoon het. In die boek word kostelike staaltjies beskryf met 'n humor wat uniek en eiesoortig aan die Bosveld is,” verduidelik Thomas.

Behalwe vir die gediggies wat hy voorheen so gereeld geskryf het, het Thomas ‘n paar jaar gelede ook aan Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland se nasionale skryfkompetisie deelgeneem. Sy kortverhaal ‘Verganklikheid of Ewigheid’ het toe 'n tweede plek in die betrokke afdeling behaal.

Thomas vertel ‘n bietjie meer oor hul lewenspaadjie in hul nuwe land, Nieu-Seeland: “Ons het tot die einde van 2004 in Auckland gebly waar ek eers saam met my seun 'n rekenaarbesigheid en later saam met my skoonseun 'n internetkafee in Howick bedryf het. Daarna het ek en my vrou Ewouda in 'n plaashuis tussen Morrinsville en Te Aroha gaan woon waar ons in fabrieke gewerk het.

“Toe ek sowat 'n jaar gelede as gevolg van 'n siektetoestand my werk moes laat vaar, het ons Tokoroa toe verhuis. Ewouda werk tans by 'n eiendomsagentskap in die omgewing”.

Maar hier’s ‘n proestukkie uit die opsomming op die boek se stofomslag:

“Ellisras…Bosveld…Waterberg…Die name kleef soos die Mangolrivier se vloei om die wortels van sy oewerbome. Kort na die Eerste Wêreldoorlog trek Flip Coetzee en Annie Steenekamp as kleuters saam met hul families hierdie wilde wêreld binne om die beskawing oop te breek soos ryp veldvrugte.

“Swaarkry en vreugde loop hand aan hand: malaria, perdesiekte, hartwater…met ‘n bitterhoutjie en ‘n trae boorgat moes die diere aan die lewe gehou word.”

Dan vertel die stofomslag verder:

“Die skrywer het dit reggekry om ‘n unieke balans tussen historiese feite en komiese insidente aan die leser oor te dra. Ongeag waar jy in Suid-Afrika grootgeword het, hier is ‘n storie wat jy sal herken.”

Die Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland Logo