Thomas Ignatius Coetzee is op 29 Augustus 1944 op die plaas Goedgedacht in die Waterbergdistrik van die ou Noord-Transvaal gebore. Sy ouers woon op die plaas Wonderboomhoek, waar hy opgroei en sy laer- en hoërskoolloopbaan op Ellisras, die huidige Lephalale, voltooi.
Met die ontstaan van die eerste groot ontwikkelings in die omgewing bedryf hy vir ʼn paar jaar saam met sy pa en broer ʼn klipbrekery en vervoeronderneming op Ellisras.
In 1968 trek hy na Roedtan, in die Potgietersrus (Mokopane) omgewing, waar hy vir oor die dertig jaar op die Springbokvlakte boer. Hy ontmoet sy vrou Ewouda daar en vier kinders, Philip, Erndina, Adriaan en Annatjie word uit die huwelik gebore.
Aan die begin van 1995 begin die gesin 'n sakeonderneming op Boksburg, wat deur Ewouda bestuur word. Die twee oudste kinders werk saam met haar in die besigheid, terwyl die twee jongstes nog skoolgaan. Thomas gaan met die boerdery op die plaas aan en besoek hulle gedurende naweke.
Gedurende die jaar 2000 verkoop hy die plaas en aangesien die oudste seun en sy vrou reeds in Nieu Seeland gewoon het, verhuis die res van die gesin aan die begin van Januarie 2001 ook soontoe.
Hulle bly tot aan die einde van 2004 in Auckland waar hy eers saam met sy oudste seun ʼn rekenaarbesigheid en daarna saam met sy skoonseun ʼn internetkafee bedryf. Omdat hulle van nature plaasmense is, gaan woon hy en sy vrou daarna in ʼn plaashuis tussen Morrinsville en Te Aroha van waar hulle in die plaaslike vleisfabrieke werk. Hulle woon tans op Tokoroa, ʼn dorp tussen Hamilton en Rotorua .
Behalwe vir baie gediggies wat hy deur die jare op aanvraag vir troues, geboortes, verjaarsdae en ander spesiale geleenthede geskryf het, het hy ʼn paar jaar gelede ook aan die Afrikaanse Klub van Nieu Seeland se nasionale skryfkompetisie deelgeneem. Sy kortverhaal “Verganklikheid of Ewigheid het toe ʼn tweede plek in die betrokke afdeling behaal.
“Grootwordjare,” wat hy in Junie 2008 deur Publiself Uitgewers laat druk het, is sy eerste publikasie.
ʼn Volgende bundel, “’n Handvol Stories,” word vir die komende jaar beplan. Dit sal nog meer kostelike staaltjies oor die Bosveld en sy mense bevat. Dit handel oor die tyd toe Limpopo net as ʼn rivier en Noord-Transvaal as ʼn landstreek bekend was. |