EllisrasEllisras WatertoringEllisras Bakkers  
deur Thomas Coetzee  
 
 
 

 

Thomas Ignatius Coetzee 28/08/1944 - 02/02/2009

Op 2 February 2009 is ons pa, Thomas Ignatius Coetzee, oorlede in die Waikato Hospitaal, Nieu-Seeland. Vir die laaste paar jaar het hy elke dag harder geveg vir sy asem as gevolg van 'n long siekte (emfiseem) waaraan hy gely het. Voor en gedurende die tyd het hy sy boek geskryf en al was daar dae wat hy te moeg was om te tik, was dit belangrik vir hom gewees om aan te hou tot aan die bittereinde.

Ons sal pa onthou as die boer met die fyn humor. Die gelowige man wat alles vir sy geliefdes gedoen het. Die staatmaker op alle gebiede. Ons kon nie vir meer in 'n pa of familie man gevra het nie. Dankie vir alles wat pa vir ons gedoen het, ons is lief vir pa en ons mis pa regtig.

 

Afrikaanse Kiwi publiseer lag-met-'n-traan boek

Hy het deur die jare heelwat gediggies op aanvraag vir troues, geboortes, verjaarsdae en ander geleenthede geskryf, maar sy eerste boek, ‘Grootwordjare’, is eers nou die dag in Suid-Afrika gepubliseer terwyl hy in Nieu-Seeland woon.

Thomas Coetzee se boek is in Junie deur Publiself Uitgewers in Pretoria uitgegee. Heelwat eksemplare is reeds in Suid-Afrika verkoop en nou maak Thomas die boek ook in Nieu-Seeland vir Afrikaanse Kiwi’s beskikbaar.

kliek hier vir meer

Grootwordjare

Ellisras... Bosveld... Waterberg... Die name kleef soos die Magolrivier se vloei om die wortels van sy oewerbome. Kort na die Eerste Wêreldoorlog trek Flip Coetzee en Annie Steenekamp as kleuters saam met hulle families hierdie wilde wêreld binne om die beskawing oop te breek soos ryp veldvrugte.

Swaarkry en vreugde loop hand aan hand: malaria, perdesiekte, hartwater ... met 'n bitterhoutjie en 'n trae boorgat moes die diere aan die lewe gehou word.

Daar was egter die vreugde van 'n wye boswêreld waar daar met vee getrek kon word, jagtogte, ideale, 'n eie stukkie grond langs die Magol waar hul vyf kinders kon opgroei saam met die Sentrale Skool op Ellisras wat die klein plaasskooltjies verenig het.

Hierdie is 'n nostalgiese verhaal, maar deurspek met humor eie aan die Bosveld ... 'n gewonde bobbejaan wys sy vinger Boontoe, Stefaans se Studebaker spoed onbeheerbaar sonder remme teen Sandrivierspoort se nek af, die seuns dramatiseer die Wolraad Woltemade epos met 'n onwillige donkie in die rivier, selfs die Bybelse verhaal van die deurtog deur die Jordaan word op unieke wyse deur 'n onderwyser aan groot-oogkinders beskryf, dieselfde jonges wat met 'n tuisgeboude trekkertjie 'n wedren teen 'n Volkswagen Kewer aandurf.

Met die lees van hierdie boek vee jy nog trane af terwyl jy weer skaterlag oor die volgende staaltjie. Die skrywer het dit reggekry om 'n unieke balans tussen historiese feite en komiese insidente aan die leser oor te dra.

Ongeag waar in Suid-Afrika jy grootgeword het, hier is 'n storie wat jy sal herken.


 

Foto van Thomas Coetzee

 

 

 

 

Grootwordjare Boek Voorblad - Deur Thomas Coetzee